HOOFWEG EVANGELISASIE BEDIENING

HOOFWEG EVANGELISASIE BEDIENING Contact information, map and directions, contact form, opening hours, services, ratings, photos, videos and announcements from HOOFWEG EVANGELISASIE BEDIENING, Posbus 613, Worcester.

Paul en Mientjie Smith het die Goeie Nuus Taxi Bediening in Worcester as 'n uitreikaksie geregistreer om met die Evangelie van Jesus Christus op CD's uit te reik na bestuurders van swaar vragmotors, busse en taxis.Hulle het landwyd uitreikspanne.

19/01/2014

Die Desember/Januarie uitreike is so pas verby en die Here het weereens ver bo wat ons bid of vra gegee. Ons het met die samewerking van 31 uitreikspanne landwyd daarin geslaag om 3,725 CD-uitreikpakkette en 74,500 Christelike traktaatjies landwyd te versprei. Soms lyk dit asof al hierdie uitreike geen verskil maak aan roekelose, nalatige en aggresiewe voertuig bestuurders nie. Ek het Donderdagoggend met ons provinsiale verkeershoof 'n vergadering gehad om ons plan van aksie vir Paasnaweek 2014 te bespreek. Ons het gepraat oor die geweldige hoe sterftesyfer op ons land se paaie en ek het vir hom genoem dat dit ons laat wonder of ons uitreikaksies enigsins 'n verskil maak. Sy reaksie was onmiddellik dat as ons dit nie doen nie, dan kan dit seker nog erger gaan. Dit beteken dat ons uitreikaksies iewers in iemand se lewe tog 'n verskil maak, al weet ons nie altyd daarvan nie. Ons moet net voortgaan om die saad te saai en weet dat dit God is wat dit laat groei.
Bid asseblief vir ons vir wysheid en krag vir al die voorbereidings met die oog op Paasnaweek 2014 se uitreikaksies.

05/12/2013

Die Here is vir ons baie goed, as Hy jou roep vir 'n spesifieke taak kan jy verseker weet dat Hy in al die behoeftes sal voorsien. So voorsien die Here dat die Hoofweg Evangelisasie Bediening môre landwyd met CD-uitreikpakkette sal uitreik na bestuurders van swaarvragmotors, busse, taxis en gewone motoriste. Ons het van Worcester af byna 4,000 CD-pakkette en 80,000 Christelike traktaatjies regoor die land versprei wat van môre langs meeste hoofroetes oor die land, gratis uitgedeel sal word. Daar sal ook gebedsaksies wees wat saam sal uitreik om vir die veiligheid van ons land se paaie by die Here in te tree terwyl die CD-pakkette uitgedeel word. Ons sal plaaslik die karvaan op die terrein van 'n vulstasie langs die N1 buite Worcester opslaan en die naweek daar bly.

29/11/2013

Die Hoofweg Evangelisasie Bediening het onder leiding van die Heilige Gees besluit om 'n landswye Evangelisasie uitreik vir die Desember/Januarie vakansieseisoen te reël. Vandag wil ons graag van die geleentheid gebruik maak om ons opregte dank en waardering te betuig vir elke bestelling van CD-uitreikpakkette wat ons tot dusvêr ontvang het. Ons gee aan die Here, deur wie elkeen gedring is om aan die uitreik deel te neem, al die eer. Verder is ons baie opgewonde om te sien hoedat God, wat hierdie bediening aan ons toevertrou het, dit steeds laat groei en hoe daar meer en meer uitreikaksies begin om deel te neem sodat daar tot op datum byna 4000 CD-uitreikpakkette bestel is. Dit beteken ook dat daar byna 80,000 Christelike traktaatjies saam met die uitreikpakkette vanaf Vrydag die 6de Desember, landwyd versprei sal word. Ons glo dat God se woord nie leeg sal terugkeer nie!!!

12/11/2013

Sondagoggend het RSG tydens Sondagaktueel tussen 07:00 en 08:00 'n telefoniese onderhoud wat ek met Phil Loots gehad het uitgesaai. Ek het probeer om kortliks die bediening van Highway Mission Centre en die Hoofweg Evangelisasie Bediening te verduidelik. Talle luisteraars het my geskakel en ander het e-posse gestuur met die gevolg dat ons tussen gister en vandag bestellings vir 500 CD-uitreikpakkette ontvang het, ander belangstellendes kon ons help om Christeliketraktaatjies te kry. Ons besef maar weer dat ons net instrumente in God se hand is, dat dit Hy is wat beheer oor hierdie bediening het en dit aan ons toevertrou het om dit na die beste van ons vermoë te bestuur.

08/11/2013

Die Here stel nooit teleur nie!! Met die evangelisasie veldtog van die Hoofweg Evangelisasie Bediening was en is die Here besig om by uitnemendheid te onderneem. So is daar tot op datum reeds 2,383 CD-uitreikpakkette en 47,600 christelike traktaatjies landwyd gestuur om uitgedeel te word. Ons verwag binne die volgende week dat daar nog vele bestellings geplaas sal word. Luister bietjie Sondagoggend tussen 07:00 en 08:00 na RSG en julle sal dan hoor hoe ek met Phil Loods gesêls oor ons landswye uitreik wat vir die 6de Desember beplan word.

25/09/2013

Ons is opgewonde om te sien hoe die Here dinge laat gebeur. Ons het vandag ons eerste bestelling vir 250 CD-uitreikpakkette ontvang. Ons kan nie wag om te sien wat na hierdie vakansie nog gaan gebeur nie.

24/09/2013

Ons beplan 'n reuse landswye Evangelisasie uitreikaksie met die oog op die Desember/Januarie vakansie. Die uitreik met die Evangelie van Jesus Christus na bestuurders van swaarvragmotors, busse, taxis en gewone motoriste sal DV op Vrydag die 6de Desember begin. Ons verwag dat daar weer duisende voertuie met vakansiegangers en ander reisigers op ons land se paaie sal wees. Dit is 'n geleentheid wat ons nie verby kan laat gaan nie, want ons het 'n roeping van God om Sy koninkryk ook in die vervoerbedryf te vestig, alleen kan ons dit nie doen nie daarom maak ons staat op die deelname van uitreiaksies regoor die land. Ons het vir hierdie doel weer nuwe Evangeliese CD-uitreikpakkette in Afrikaans, Engels, Xhosa, Zulu, Sotho en Tswana voorberei. Omdat dit 'n bediening is wat die Here aan ons toevertrou het, maak Hy dit vir ons moontlik om met die samewerking van ander uitreikaksies 'n gemiddeld van 3,800 CD-uitreikpakkette tydens so 'n uitreikgeleentheid landwyd te versprei. Ons weet net dat God ons ook hierdie keer nie in die steek sal laat nie en ons loof en eer Hom daarvoor.

08/09/2013

Ons is besig om 'n pamflet met die oog op padveiligheid te ontwerp. Ons noem dit: PADVEILIGHEID - GOD SE PLAN - JOU VERANTWOORDELIKHEID. Gesien in die lig van Gal 5:22-23 met die fokus op: GETROUHEID = BETROBAARHEID; NEDERIGHEID = VERDRAAGSAAMHEID EN GEDULD. Daar word by talle uitreikpunte aan veral vragmotorbestuurders Bybels uitgedeel, ons verwag dat daardie bestuurders misnstens wat in die Bybel gekrywe staan sal toepas, veral Gal 5. Ons beplan om voor dat die skole Desember sluit 'n massiewe padveiligheidsveldtog te reël. Ons glo God hoor ons noodkreet om die dood op ons land se paaie stop te sit daarom sal ons volhard om saam te bid. Ons het nog 'n paar ander planne soos God dit in ons gedagtes lê wat ons binnekort ook sal bekend maak.

07/08/2013

Indien jy KRUISKYK se TV program kan ontvang, kyk bietjie Sondagaan 21:00 na die program TYDLOOS daar sal van hierdie bediening wat die Here aan ons toevertrou het vir ongeveer 4 minute vertel word. Ons is regtig baie dankbaar vir die geleentheid wat die Here gee.

27/07/2013

Ons by Highway Mission Centre volhard daarin om ons te beywer vir die veiligheid van ons land se paaie. Ons bly daarvan oortuig dat Christelikewaardes 'n groot rol kan speel in padveiligheid, want padveiligheid is elke padverbruiker se verantwoordelikheid. Ons motiveer bestuurders van alle voertuie om iets van die vrug van die Gees volgens Gal 5:22 en 23 sigbaar te laat wees, ons laat die klem val op: Betroubaarheid (dan sal daar nie onpadwaardige voertuie op ons paaie wees nie en bestuurders sal nie onverantwoordelike en onwettige dinge doen nie), Verdraagsaamheid (om maar toegeeflik te wees met ander bestuurders wat geen respek vir medemotoriste het nie) en Geduldigheid (om geduldig te wees waar oponhoude is of ander bestuurders jou frustreer). Indien elke padverbruiker, Christen al dan nie, hierdie drie beginsels gaan toepas is ons seker dat God die gety van sterftes op ons land se paaie sal draai en die slagting stop sal sit. Kom ons begin hiermee by ons self, maak 'n commitment om so op te tree wanneer ons op pad is.

14/07/2013

Soos julle reeds weet het ons die 5de bestaansjaar van Highway Mission Centre op die 4de Julie 2013 gevier en aan die Here gee ons al die eer. Hy wat jou roep vir 'n spesifieke taak voorsien ook in al die behoeftes, dit is ons persoonlike ondervinding elke dag. Highway Mission Centre is die saambreelorganisasie waar onder drie afdelings funksioneer. (1) Gebedsuitreike vir padveiligheid: ons noem dit die Highway Mission Centre gebedspunt. (2) Die toerusting van gelowiges: dit staan bekend as "Leef jou geloof" en ons gebruik die Lukas 10 Transformasie (L-10-T) toerustingsprogram. (3) Evangelisasie-uitreike: onder die vaandel van die Hoofweg Evangelisasie Bediening, dit was eers die Goeie Nuus Taxi Bediening maar gedurende 2011 is die naam verander.
Onder die Evangelisasie-uitreike het ons die afgelope 5 jaar reeds 60 nuwe CD-produksies vervaardig. Ons het met die samewerking van verskillende kerke, uitreikaksies en individue 27,203 van hierdie CD-uitreikpakkette versprei, daar is ook saam met hierdie uitreikpakkette 544,060 Christelike traktaatjies versprei. Ons is besig met opnames vir die nuwe CD's om Desember/Januarie uit te reik, ons Sotho en Zulu opnames is reeds gedoen en ons gee hierdie week aandag aan die ander 4 opnames. Die projek om Desember/Januarie saam uit te reik sal hierdie week geloods word.

12/07/2013

Daar is duidelik 'n toename van verkeer op ons land se paaie, vakansiegangers is besig om huiswaarts te keer met die oog op die skole wat Maandag die 15de weer begin. Ons volhard om by die Here in te tree vir die veiligheid van alle padverbruikers en ons nooi alle Christengelowiges om saam in die bres te staan. Ons is ook bewus daarvan dat daar 'n voortslepende slagting op ons land se paaie aan die orde van die dag is, net God kan hierdie gety draai.

Address

Posbus 613
Worcester
6849

Telephone

+27 83 557 6592

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when HOOFWEG EVANGELISASIE BEDIENING posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Share